3 Desember 2024 Persverklaring: Gesondheids- en Higiëne Werkswinkel vir Spaza winkel eienaars en informele kosverkopers gehou in Ladismith
Persverklaring: Gesondheids- en Higiëne Werkswinkel vir Spaza winkel eienaars en informele kosverkopers gehou in Ladismith
3 Desember 2024
Die Omgewingsgesondheidspraktisyns (OGP) van die Tuinroete Distriksmunisipaliteit (TDM) se Klein Karoo Munisipale Gesondheidkantoor, in samewerking met Kannaland Munisipaliteit, het gister ’n opvoedkundige werkswinkel aangebied om informele voedselhandelaars in die Ladismith omgewing te bemagtig.
Die werkswinkel het gevolg na ’n week van blitsoperasies wat plaasgevind het en verskeie rolspelers soos die OGP’s van die TDM, die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), Immigrasiedienste, en verskeie departemente binne Kannaland Munisipaliteit, onder andere die Brandweerdienste, Wetstoepassing, Boubeheer en Stadsbeplanningsdienste ingesluit het.
Gesondheid- en Higiëne Opvoeding deur OGP
Tydens die werkswinkel, het die OGP’s ‘n omvattende gesondheids- en higiëne opvoedingsessie aangebied wat op die volgende aspekte gefokus het:
- Die Regulasies wat Algemene Higiënevereistes vir Voedselpersele, die Vervoer van Voedsel en Verwante Sake beheer, naamlik Regulasie R638 van 2018, afgekondig kragtens die Wet op Voedsel, Skoonheidsmiddels en Ontsmettingsmiddels, Wet 54 van 1972. Hierdie regulasie vereis dat alle voedselbesigheidsoperateurs by die higiëne- en veiligheidsprotokolle hou en oor ‘n geldige Sertifikaat van Aanvaarbaarheid beskik.
- Geen voedselperseel mag voedsel aan die publiek verkoop sonder ‘n geldige Sertifikaat van Aanvaarbaarheid nie.
- ‘n Sertifikaat van Aanvaarbaarheid kan slegs verkry word deur aansoek te doen by die plaaslike munisipale gesondheidsdiensowerheid. Hierdie sertifikaat word slegs uitgereik nadat die voldoening aan Regulasie R638 van 2018 deur ‘n inspekteur geverifieer is.
Indien ‘n OGP, nadat ‘n inspeksie uitgevoer is, tevrede is dat aan die volgende vereistes voldoen word, sal hulle ‘n Sertifikaat van Aanvaarbaarheid (COA) uitreik:
- Strukturele vereistes.
- Temperatuurbeheer.
- Skei van rou en gaar kos.
- Aangewese voedselbergingsareas.
- Higiënevereistes.
- Plaagbeheer en verbode plaagdoders.
- Persoonlike higiëne van voedselhanteerders.
- Gereelde handewas.
- Beskerming van voedsel.
- Identifisering van onveilige kos.
- Datumbeheer: Verduideliking van “verkoop teen,” “gebruik teen,” en “beste voor” datums.
- Belangrike feite oor etikettering van voorafverpakte voedsel.
Drie tipes Sertifikate van Aanvaarbaarheid (COA’s) wat aan voedselhandelaars uitgereik kan word:
- Sertifisering vir die verkoop van voedselprodukte: Vir handelaars wat voedselprodukte aan die publiek verkoop.
- Voedselvoorbereiding: Vir die voorbereiding van kos op die perseel.
- Voedselverwerking: Vir fabrieke wat voedselprodukte vervaardig.
Belangrike Nota:
Voldoening aan Regulasie 638 van 2018 bied nie outomaties goedkeuring om besigheid op voedselpersele te bedryf nie. Alle ander relevante vereistes van die plaaslike owerheid en toepaslike wetgewing moet ook nagekom word.
Vyf sleutels vir veiliger kos:
- Hou skoon.
- Skei rou en gaar.
- Kook deeglik.
- Berg kos by veilige temperature.
- Gebruik skoon water en rou materiaal.
Higiëne 10-punt plan vir voedselpersele:
- Was altyd jou hande voordat jy kos hanteer en nadat jy die toilet gebruik het.
- Rapporteer enige vel-, neus-, keel- of diarreeprobleem by jou toesighouer en bedek enige snye met ‘n waterdigte pleister.
- Moet nie oor kos of werkoppervlak hoes of nies nie.
- Was jou liggaam goed en dra altyd skoon, beskermende klere.
- Onthou, rook in die kosbereidingsarea is verbode.
- Werk netjies in kosareas, hou altyd die kombuistoerusting en eetgerei skoon.
- Hou kos skoon, bedek en op die regte temperatuur (warm of koud) soos benodig. Hou rou en gaar kos apart.
- Hou jou kaal hande so ver as moontlik van die kos af.
- Hou die deksel op die vullisdrom.
- Moet nie die wet oortree nie! Vra die persoon in beheer as jy nie die regulasies verstaan nie.
Vir navrae met betrekking tot COA’s uitgereik deur OGP’s in die Oudtshoorn en Kannaland munisipale gebiede, kontak:
Desmond Paulse, Bestuurder Munisipale Gesondheidsdienste: Klein Karoo – 044 272 2241, desmond@gardenroute.gov.za
Hooffoto: Spaza Winkel eienaars van Ladismith wie die werkswinkel bygewoon het
-END-