Skip to content Skip to left sidebar Skip to footer

Calitzdorp Warmbron

19 Mei 2025 Mediaverklaring: Die Son sal weer Skyn oor Calitzdorp Warmbron

Mediaverklaring: Die Son sal weer Skyn oor Calitzdorp Warmbron

19 Mei 2025

Die Tuinroete Distriksmunisipaliteit (TDM) beplan om nuwe lewe in die ikoniese Calitzdorp Warmbron oord te blaas, geleë sowat 25 km buite Calitzdorp. Al het die fasiliteit onlangs sy deure vir die publiek gesluit, beteken dié besluit geensins die einde van die oord nie; inteendeel, dit dui die begin aan van ’n opwindende nuwe hoofstuk deur middel van ’n voorgestelde langtermyn-huurooreenkoms.

Volgens Dzivhuluwani Mashila, Bestuurder: Projekte, Eiendomme, Fasiliteite en Oordbestuur by TDM:

“Die TDM het verskeie interne werkswinkels gereël om die kwessie aan te spreek voordat die Oord se deure gesluit is. Dit is gedoen om ’n volhoubare plan vir die oord se toekoms te ontwikkel. Die voorlopige plan behels die bewaring en instandhouding van die terrein terwyl die grondslag gelê word vir die Raad om ’n potensiële langtermyn-huurooreenkoms met ’n vennoot te oorweeg (die proses sal na afloop van die TDM-Raad se finale besluit, kan afskop). Hierdie benadering sal verseker dat die oord beskerm word en strategies geposisioneer is vir toekomstige ontwikkeling. Daar word beoog om Calitzdorp Wamrbon se volle ekonomiese, omgewings- en toerismepotensiaal te ontsluit. Dit hou groot voordele in vir Calitzdorp, sy inwoners en die breër streek.”

’n Juweel wat wag om te skyn

Calitzdorp Warmbron kan beskryf word as ’n ongeslypte diamant wat, met die regte belegging en visie, in ’n ware toerismejuweel omskep kan word.

Met moontlikhede vir spa en welstand-behandelings, eko-toerisme en kulturele ervarings, het hierdie natuurlike warmbron die potensiaal om veel meer te bied as slegs akkommodasie en kleiner ontspanningsaktiwiteite soos reuse-skaak, vlugbal en staproetes. Die realiteit is egter dat die munisipaliteit, weens huidige begrotingsbeperkings, nie in staat is om alleen aan die vereistes vir formele stergradering of grootskaalse opgraderings te voldoen nie.

 Grondeise en ontwikkeling

Die eiendom is tans onderhewig aan ’n grondeis, wat reeds die aandag van die Grond-eise Kommissie geniet. Verskeie onderhandelinge is reeds gevoer, en die TDM benader die proses op ’n billike en inklusiewe wyse. Enige voorgestelde oplossings sal aan die TDM-Raad voorgelê word vir oorweging voordat daar met enige tender- en verhuurprosesse voortgegaan word.

Terwyl langtermynplanne oorweeg word, gaan die munisipaliteit voort om die oord se infrastruktuur in stand te hou – met een duidelike boodskap:

Die son sal weer skyn oor Calitzdorp Warmbron – helderder en mooier as ooit tevore.