Skip to content Skip to left sidebar Skip to footer

22 Junie 2022 Persvrystelling: Naam en kenteken van Calitzdorp Spa verander na Calitzdorp Warmbron

Media Vrystelling: Naam en kenteken van Calitzdorp Spa verander na Calitzdorp Warmwaterbron

Vir Onmiddelikke Vrystelling
22 Junie 2022

Die Tuinroete Distriksraad (Garden Route District Municipality Council) het vandag besluit om Calitzdorp Spa te hernoem en sy kenteken te verander na Calitzdorp Warmwaterbron wat in Engels bekend sal staan as Calitzdorp Hot Springs. Die besluit is geneem na verskeie reisagente en gaste hul kommer uitgespreek het oor die warmwaterbron wat nie spa-tipe fasiliteite bied nie, maar eerder by sy unieke verkoopspunt geïdentifiseer moet word. Tydens die World Travel Market Africa is die Distriksmunisipaliteit se oorde en kampeerterreine bemark en dis waar soorgelyke vrae opgeduik het oor Calitzdorp Spa se naam.

“Die naam Calitzdorp Spa is misleidend in die sin dat gaste wat nog nie die warmwaterbron besoek het nie van mening is dat hul verskeie geriewe en dienste verwag het – soos die ou naam wat “spa” insluit mens laat dink,” meen Tuinroete Distriksmunisipaliteit se Portefeulje Raadslid vir Eiendom en Batebestuur, Rdl. Jobieth Hoogbaard.

“Calitzdorp Warmwaterbron gee ‘n akkurate aanduiding van wat gaste kan verwag,” sê Hoogbaard.

Die kenteken is deur die kommunikasie-afdeling van die distriksmunisipaliteit aangepas en addisionele kostes is nie aangegaan om diensverskaffers te betrek tydens die proses nie. Die Distriksmunisipaliteit sal voortgaan om die uitrol van die nuwe identiteit kostedoeltreffend te bestuur.

Noudat die nuwe kenteken en naam onthul is deur die raad se goedkeuring, sal’n handleiding en -gereedskapstel saamgestel word, wat onder meer template sal bevat wat alle vir bemarkingsdoeleindes gebruik kan word. Om mee te begin, sal die nuwe kenteken op ons verskillende digitale platforms aangebring word, wat betreklik goedkoop sal wees. Namate die Warmwaterbron se ander kontakpunte met die publiek dan bygewerk of vervang moet word, sal ons die nuwe kenteken stelselmatig infaseer.

Foto van embleme: Ou embleem (Calitzdorp Spa, links) en nuwe embleem (Calitzdorp Hot Springs, regs).

 

EINDE