10 Maart 2025 Mediavrystelling: TDM hou voort om gemeenskappe in Klein-Karoo tydens waterkrisis te help
Mediavrystelling: TDM hou voort om gemeenskappe in Klein-Karoo tydens waterkrisis te help
Vir onmiddellike vrystelling
10 Maart 2025
Die Tuinroete Distriksmunisipaliteit (TDM) het verlede week voortgegaan om hulp te verleen aan die Oudtshoorn Munisipaliteit. Dit volg nadat dié plaaslike munisipaliteit dringend met die TDM moes skakel om ‘n ernstige waterskaarste-krisis in Dysselsdorp, De Rust en Blomnek aan te spreek.
Volgens die TDM se Rampbestuurhoof, Gerhard Otto, het die probleem ontstaan “nadat ‘n kabel beskadig is weens die onlangse kragonderbrekings.”
Tussen Dinsdag en Saterdag (8 Maart) het die Tegniese Dienste-afdeling van die Oudtshoorn Munisipaliteit vier foutiewe plekke op die hoof-elektrisiteitsvoerkabel geïdentifiseer en herstel om ‘n stabiele toevoer aan gemeenskappe te verseker. Hierdie kabel is noodsaaklik vir die voorsiening van elektrisiteit aan die waterpompe wat Dysselsdorp van huishoudelike water voorsien.
Die situasie is verder vererger deur Eskom se beurtkrag, wat dele van De Rust en Blomnek se krane droog gelaat het. In reaksie hierop het die TDM se Rampbestuursentrum en die GRDM Brandweerdiens daagliks ‘n 10 000-liter watertrok ontplooi, insluitend oor die afgelope naweek, om water aan die geaffekteerde gemeenskappe te voorsien.
Die herstelwerk aan die kragkabel is nou voltooi, en die waterpompe funksioneer op volle kapasiteit, wat beteken dat die reservoirs weer aangevul word. Dit bly egter noodsaaklik om die aanhoudende droogtetoestande in die Karoo in ag te neem, aangesien dit ‘n impak op watervoorsiening sal hê.
TDM Burgemeester Andrew Stroebel het beklemtoon: “Die TDM sal voortgaan om die Oudtshoorn Munisipaliteit tydens hierdie krisis te ondersteun en sal hulp verleen tot minstens Vrydag, wanneer verwag word dat die agterstand in waterlewering uitgesorteer sal wees.”
Die TDM doen ‘n dringende beroep op alle inwoners om spaarsamig met water om te gaan gedurende hierdie herstelperiode.
‘n Vorige mediavrystelling wat verband hou met die bogenoemde: https://tinyurl.com/4m3nsw7v
Water word afgelewer by dorpe insluitend Dysselsdorp, De rust en Blomnek
EINDE