26 Februarie 2025 Persverklaring: TDM help Kannaland Munisipaliteit tydens Waterkrisis
Persverklaring: TDM help Kannaland Munisipaliteit tydens Waterkrisis
26 Februarie 2025
Die Tuinroete Distriksmunisipaliteit (TDM) het vinnig opgetree om ‘n waterkrisis in Ladismith te help verlig nadat fase 6-beurtkrag die afgelope naweek onverwags ingestel is.
Op Sondag, 23 Februarie, om 20:00, is die Tuinroete Rampbestuursentrum ingelig dat verskeie areas in Ladismith sedert die oggend sonder water was weens ontwrigtings in die watervoorsiening. As gevolg van die ernstigheid van die situasie, het die Uitvoerende Burgemeester van TDM, Andrew Stroebel, die onmiddellike ontplooiing van watertenks goedgekeur om inwoners van noodsaaklike water vir huishoudelike gebruik te voorsien.
Die TDM Brandweerstasie in Ladismith het onmiddellik reageer en ‘n 5 000 liter water tank gestuur om verligting te bring, terwyl die Rampbestuursentrum ‘n bykomende 10 000-liter en 6 000-liter watertenk vanaf George versoek en laat ontplooi het. Hierdie pogings was nie net daarop gemik om inwoners in nood te voorsien nie, maar ook om die dorp se hoofwaterreservoirs, wat tot kritiek lae vlakke onder 5% kapasiteit gedaal het, aan te vul.
Om die krisis verder te verlig, het die Rampbestuursentrum ‘n 100 KVA diesel-aangedrewe rugsteunopwekker beskikbaar gestel om waterpompbedrywighede tydens uitgebreide beurtkragperiodes te ondersteun.
Vanaf 14:00 gistermiddag het die gesamentlike pogings tussen Kannaland Munisipaliteit, TDM Brandweerdienste en TDM Rampbestuur die situasie aansienlik verbeter. Die hoofreservoir in Ladismith het gestyg tot bo 35%, terwyl die Jan F. Le Grange- en Government-damme herstel het tot vlakke tussen 25% en 30%.
Die Distriksmunisipaliteit sal voortgaan om die situasie noukeurig te monitor en voortdurende hulp aan die Kannaland Munisipaliteit en ander wat hulp nodig het, te verleen.
Vir verdere opdaterings word inwoners aangemoedig om Kannaland Munisipaliteit se amptelike kommunikasiekanale te volg.
Inwoners van Ladismith besig om water by die watertenks te haal.
-EINDE-